Wie is ons - Egk Centurion

Ds Gerrie van Dalen
084 515 0937
gavandalen62@gmail.com


EGK-Centurion
Diens Tye
09:00
18:30


Gloverlaan 264A
Lyttleton AH
Centurion


Go to content

Main menu:

LEUSE: SO Sê die HERE"


Die Evangelies-Gereformeerde Kerk van Suid-Afrika is 'n lewenskragtige evangeliese kerk wat op gereformeerde grondslag berus. Moontlik het u nog nooit met die Kerk kennis gemaak nie. Dit mag selfs wees dat u nog nooit van die Kerk gehoor het nie. Deur verdraaide of gebrekkige inligting mag dit wees dat u 'n verkeerde begrip omtrent die Kerk het.


Ons beskou dit as 'n besondere voorreg om u langs hierdie weg in te lig en beter kennis te laat maak met die Evangelies-Gereformeerde Kerk van Suid-Afrika.

1. Die ontstaan van die Evangelies-Gereformeerde Kerk van Suid-Afrika

Die Kerk is gestig op 21 April 1944 deur 49 kerkraadslede van die N.G. Kerk, Smithstraat, Durban, onder die naam "Die Nuwe Protestantse Kerk in Afrika". Op 18 Augustus 1986 is die naam van die Kerk deur die Sinode verander na die Evangelies-Gereformeerde Kerk van Suid-Afrika. Die rede vir die naamsverandering was die voortdurende verwarring en assosiëring van die Kerk met die Pinksterkerke, terwyl die Kerk baie duidelik in die gereformeerde stroom is, maar met 'n sterk evangeliese karakter. Daar is gemeentes in al nege die provinsies van Suid-Afrika. Kenmerkend van die Kerk is die eenvoudige en verstaanbare boodskap wat onder inspirasie van die Heilige Gees na die mens gebring word onder die leuse "So sê die Here".

2. Die grondslag van die Kerk

Hierdie kerk is gefundeer op die Heilige Skrif, die onfeilbare Woord van God. Die leer wat die Kerk, op grond van God's Woord bely, is evangelies-gereformeerd en dit word uitgedruk in sy evangeliese belydenis en ook die gereformeerde belydenisskrifte, nl. Die Drie Formuliere van Enigheid. Die Kerk aanvaar die Formuliere as ondergeskik aan die Woord van God.

3. Die Boodskap wat die Kerk verkondig

Tereg kan saam met die apostel Paulus gesê word: "Want ek het my voorgeneem om niks onder julle te wees nie as Jesus Christus en Hom as gekruisigde". Die boodskap wat deur die Kerk uitgedra word sluit die volgende in:

3.1 Die verlossing van verlore sondaars (Efes. 1:7) en dat 'n mens in hierdie lewe sekerheid van saligheid kan bekom. (1 Joh. 3:15)
3.2 Die vervulling met die Heilige Gees (Efes. 5:18) en die noodsaaklikheid van die heiligmaking wat die wil van God is vir sy kinders. (1 Thes. 4:7-8)
3.3 Die persoonlike wederkoms van Jesus Christus voor die duisendjarige vrederyk. (1 Thes. 4:16-17, Open. 19:20)
3.4 Die genesing van die kranke liggaam, wat impliseer dat God vandag nog siekes genees op grond van die versoening van Christus Jesus. (Matt. 8:17-19)


4. Die regeringstelsel van die Kerk

Die kerklike opsig en bestuur is gegrond op die Dordtse Kerkordening en word deur die bestuursliggame, nl. leraar, ring en sinode in stygende orde gekenmerk. Die drie ampte, nl. leraar, ouderling en diaken, word in die kerkorde erken. Slegs persone met 'n persoonlike getuienis van wedergeboorte word gekies om in die onderskeie ampte te dien.

5. Vorm van aanbidding

Kenmerkend van die vorm van aanbidding is dat dit ordelik, meelewend en onder leiding van die Heilige Gees geskied. God staan sentraal in hierdie vorm van aanbidding, want aan Hom kom toe al die waardering, lofprysing en dank in die erediens terwyl die mens sekondêr is.
Tydens die oggendienste word die Psalms- en Gesangeboek gebruik. Die voorlees van die Wet, of die samevating daarvan, asook die lees van die Geloofsbelydenis word in die ritus van die erediens ingesluit. Die aand-erediens word gekenmerk deur vurige evangeliese boodskappe wat gerig word tot verlorenes om diegene wat gewillig is om hulle te bekeer, te lei tot sekerheid van saligheid. Tydens die aanddienste word daar uit die Halleluja-sangbundel gesing. Die Kerk beskou die bywoning van die eredienste as uiters belangrik, andersyds om lidmate in die geloof te versterk en tot geestelike volwassenheid te lei en andersyds om persone te help om tot geloof in Christus te kom. Die Kerk maak gebruik van die 1933 standaard vertaling as kanselbybel.

6. Ander Aktiwiteite.

Woensdagaande word bidure gereël. Aktiewe susters-(C.V.V.) en jeugverenigings (C.J.V) bestaan in gemeentes. Goed georganiseerde Sondagskole funksioneer baie gesond. Ter verryking van die gelowiges se geestelike lewens word kerkkonferensies op die Kerk se verskillende konferensiegronde gereël.

7. Sending.

Die Kerk word gekenmerk deur aktiewe sendingsaksie, Aksie 1:8 wat binne en buite Suid-Afrika werksaam is.

8. Sakramente wat in die Kerk bedien word.

Die Heilige Doop word deur besprenkeling bedien aan die kinders van gelowige ouers. Aan ongedoopte volwassenes word die doop deur besprenkeling bedien na belydenis van geloof afgelê is. Die sakrament van die Heilige Nagmaal word alleen aan kinders van God, wat die vrymoedigheid daartoe het, bedien. Die Kerk beskou die Nagmaal as 'n instelling van die Here en daarom mag alle ware wedergeborenes, aan watter Christelike kerk of gemeente hulle ook mag behoort, saam die dood van die Here gedenk

9. Houding teenoor ander Kerke.

Die Evangelies-Gereformeerde Kerk van Suid-Afrika reik die hand van vriendskap en welwillendheid na elke Christus-belydende Kerk.

Hierdie Kerk distansieer hom geheel en al van die Wêreldraad van Kerke sowel as die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke en alle ander affiliasies van die genoemde rade.

10. Die Kerk en Staat.

Die Kerk erken die verantwoordelikheid van elke landsburger om die owerheid te eer en sy vaderland te verdedig ten einde die Christelike beskawing te beskerm. Die Kerk is gekant teen die verpolitisering van die Kerk soos dit wêreldwyd voorkom.

Dit is die beleid van die Kerk om vir die regering van die dag te bid maar nie polities betrokke te raak nie.

11. Predikante van die Kerk.

Die Evangelies-Gereformeerde Kerk van Suid-Afrika beskik oor 'n eie Teologiese Seminarie waar predikante vir die bediening opgelei word. Persone met 'n duidelike getuienis van wedergeboorte en roeping word tot die Seminarie toegelaat. Die minimum akademiese vereiste is matriek en die opleiding duur vyf jaar.

Die predikante van die Kerk het deur die jare wat verby is daarna gestrewe om met groot omsigtigheid en waaksaamheid die fundamentele en behoudende benadering van skrifinterpretasie te huldig en te verdedig. Wat die toekoms betref, solank as wat die Heer vertoef om te kom, stel die Kerk hom ten doel om met alle ywer en deernis op te tree teen allerlei vreemde en bedenklike religieuse verskynsels wat simptomaties is van die huidige tyd van godsdienstige verwarring en verval. Daarom word lidmate van die Kerk terdeë ingelig en gewaarsku teen hierdie verskynsels en moderne teologieë soos hulle van tyd tot tyd op die horison verskyn. Met groot beskeidenheid kan gesê word dat op hoogte gebly word met die verwikkelinge en gebeure op die wêreldfront ten einde raad en leiding te bied op geestelike gebied teen verleidende geeste wat miljoene mislei in die laaste dae vlak voor die wederkoms van Christus.

12. KERKBLAD.

Die Kerk het sy eie kerkblad nl. "Evangelies-Gereformeerde Kerkblad"

13. Opsommende leerstellings van die Kerk

1. Die Bybel is die onfeilbare en ewige Woord van God en is woordeliks geinspireer
2. God is enig in Wese en tog onderskei in drie Persone nl. Vader, Seun en Heilige Gees.
3. Jesus is die ewige en enigste Seun van God, wat die enigste Middelaar tussen God en die mens is.
4. Die mens is van nature in 'n vervalle toestand. Sy totale verdorweheid en onvermoë tot geestelike deugde maak wedergeboorte noodsaaklik om die koninkryk van God te kan beërwe.
5. Die verlore sondaar kan redding uit sy verlore toestand alleen deur die genade bekom, deur geloof in die plaasvervangende dood en die gegote bloed van Jesus Christus ons Heer, opgestane Heiland en Verlosser.
6. 'n Persoon moet deur belydenis en bekering van sonde Jesus Christus bewustelik aanneem as sy persoonlike Saligmaker en Verlosser, waar God die werk van werdergeboorte in die hart van die mens doen, sodat hy hemel toe kan gaan. Wedergeboorte is dus 'n daad wat God doen op grond van die versoeningsbloed van Christus, wat die mens bewustelik in hierdie lewe ondervind en waardeur hy sekerheid van saligheid ontvang.
7. Die vervulling met die Heilige Gees vir die kind van God is noodsaaklik. Dit stel hom in staat om heilig en oorwinnend te lewe asook om vir God te getuig en siele vir Christus te wen - d.i. die ampsbediening van die gelowige.
8. Die ware Kerk, die liggaam van Christus, bestaan uit almal wat weer gebore is oor die ganse wêreld, van watter taal, land of nasie hulle ook mag wees. Daarom mag alleen hulle wat lede van hierdie Kerk is, as lidmate van die gemeente en so ook van die Kerkgenootskap toegelaat word.
9. Jesus Christus, aan die regterhand van God die Vader, waar Hy nou vir Sy kinders voorspraak doen, is die enigste Hoof van die Kerk.
10. Christus se groot sendingopdrag aan sy Kerk "Gaan die hele wêreld in en verkondig die evangelie aan die ganse mensdom", moet gehoorsaam word deur die plaaslike en wêreldwye evangelisasie.
11. Die persoonlike wederkoms van Jesus Christus voor die duisendjarige vrederyk word bely. (Die wederkoms van Christus geskied in twee fases. By die eerste fase, wat net tot in die lug sal wees, kom Jesus sy kinders wegneem. By die tweede fase kom Hy tot op die aarde om hier saam met sy heiliges te regeer). Hierdie beskouing van die wederkoms staan bekend as Chiliasme.
12. Die Kerk bely die opstanding van die verlostes tot die ewige lewe en die vreugde in die hemel en die opstanding van die verlorenes tot die ewige straf - die poel van vuur.


14. Die eenheid van die liggaam van Christus.

Die Kerk huldig die beskouing van die Nederlandse Geloofsbelydenis m.b.t. die eenheid van die Kerk van Christus, nl.: "Ons glo en bely 'n enige algemene kerk wat 'n heilige vergadering is van ware gelowiges in Christus, wat hulle saligheid in Jesus Christus verwag en gewas is deur sy Bloed, geheilig en verseël deur die Heilige Gees".

Die eenheid van die Kerk word gevind in sy Hoof, nl. Jesus Christus met die gelowiges as lede van sy liggaam en daarom 'n werklike eenheid. Die eenheid van die Kerk van Christus is daarom dan 'n geestelike en onsigbare eenheid. Dit is dus nie 'n eenheid in een onsigbare bestel nie. Die sigbare eenheid van die gelowiges bestaan in die openbaring van liefde teenoor hulle Verlosser, Jesus Christus en hulle liefde teenoor mekaar. Die eenheid bestaan verder in die boodskap van verlossing en versoening wat uitgedra word in die wêreld.

15. Doelstellings van die Evangelies-Gereformeerde Kerk van Suid-Afrika

Die kerk stel hom die volgende ten doel.

1. Om die Drie-Enige God te verheerlik om sy Koninkryk uit te brei.
2. Om die suiwere vrymakende evangelie, wat in staat is om te red en lewens te verander, met ywer in die krag van die Heilige Gees te verkondig. Ons doel is dus om die evangelie tot sy reg te laat kom, nl. Om mense eers vertikaal met God te versoen en dus hulle verhouding met God reg te stel. 'n Veranderde hart en 'n nuwe lewe lei dan noodwendig tot 'n horisontale versoening en 'n gepaardgaande beter verhouding tussen mense.
3. Om die oorspronklike Protestantse beginsels te beskerm en met nuwe krag te verkondig en uit te lewe. Om nie net in naam Protestants te wees nie, maar in wese, deur voortdurende protes teen die gees van die tyd, sonde, vervalsing, afvalligheid en dwaalleringe aan te teken soos die Protestanse Hervormers teen die misbruike van hulle tyd.
4. Om voortdurend te streef na vernuwing, asook varsheid van getuienis, ondervinding en boodskap, om daardeur te waak teen verval in dooie formalisme. Dat leersuiwerheid gepaard moet gaan met egte lewensvroomheid.
5. Om hom te beywer vir die kragtige uitbreiding van die Kerk van Christus en dit word vermag deur kinders van die Here op te roep tot ware Bybelse heiligmaking en vervulling met die Heilige Gees en so toe te rus vir hulle dienswerk.
6. Om as Kerk dinamies te wees vir ons tyd en om in die geestelike behoeftes en nood van mense te voorsien.
7. Om ware tuiste te wees vir die evangelies gesinde gelowiges wie se erns dit is om geestelik te groei en die Here te dien in 'n evangelies-gereformeerde atmosfeer, waarin die Heilige Gees werksaam is.
8. Om elke gelowige binne die Kerk ruimte te gee om met sy/haar besondere gawes te werk vir uitbreiding van die koninkryk van God in die wêreld, d.w.s. 'n egte belewenis vir aktiewe deurleefde Christenskap.
9. Om die gemeente in die algemeen en elke lidmaat afsonderlik effektief te versorg deur middel van persoonlike belangstelling in toegespitste ampsbediening van leraar en kerkraad in getroue huisbesoek en voorbidding.
10. Om die getroue toepasing van die norme van die Woord van God te handhaaf.


16. Geestelike Hulp.

Ons predikante is daarop ingestel om enige persoon wat vra om geestelike hulp en raad te bedien. Daar word geglo dat persoonlik na elke individu se geestelike belange omgesien moet word.

Ons leraars lê hulle daarop toe om deeglik en getrou huisbesoek te doen en om te sien na die geestelike welsyn van elke lidmaat. Hierin word hulle ondersteun deur 'n toegewyde kerkraad, van wie elkeen duidelike getuienis van wedergeboorte moet hê. Ons predikante is ook bereid om persone wat daarom vra, te besoek al is hulle nie lidmate van die Kerk nie, met die doel om sulke persone tot hulp en seën te wees.

Indien u enige navrae het of geestelike hulp benodig, tree gerus met ons in verbinding. Alle gesprekke word streng vertroulik hanteer.

ONS GEMEENTE IS GROOT GENOEG OM U TE AKKOMODEER EN KLEIN GENOEG OM U TE WAARDEER.

'N GEMEENTE VIR DIE GESIN.
Kabous Erasmus             083 458 2683             kabouse@gmail.com


Back to content | Back to main menu